AKSIES
Die Gemeente se Aksie groepe,
Bediening en werksaamhede
Die doel van ons eredienste is dat dit, eerstens tot eer en verheerliking van God is, en tweedens lidmate begelei
tot ‘n werklike ontmoeting met God sodat hulle hulle roeping in die wêreld kan uitleef.
NG Overkruin het twee eredienste op ‘n Sondag. Die oggenderediens het ‘n meer tradisionele karakter met orrelbegeleiding en die aandienste ‘n meer
kontemporêre karakter met begeleiding deur ‘n band. Alhoewel die twee eredienste verskillende karakters het word daar gepoog om alle generasies in elke diens tuis te laat voel.
Aksiegroep Aanbidding se opdrag is om alles wat gepaart gaan met die beide erediens te bewerkstellig en sodoende die doel van ons eredienste te bereik.
Aanbidding streef daarna dat elke lidmaat, jonk en oud, tuis en betrokke te laat voel in die eredienste.
Musiek
Overkruin se aktiewe musiekbediening bied iets vir elkeen se smaak, van die fynproewer tot diegene wat meer tradisionelekerkmusiek verkies. Ons het 'n groot 3-manuaal pyporrel met nagenoeg 2000 orrelpype en 36 sprekende registers. Hierdie orrel wat in 1980/1981 deur Jan Roeleveld gebou is, is die grootste kerkorrel noord van die Magaliesberge en een van die grootste kerkorrels in Pretoria. Saam met die orrel word daar ook gereeld instrumente bespeel soos trompet, viool, dwarsfluit, saksofoon, harp, kitaar en selfs doedelsak en konsertina. Soms span ons ook 'n klawerbord in.
Erediensversorging
Die Aksiegroep maak gebruik van vrywilige lidmate, oud en jonk om toe te sien dat eredienste vlot verloop. Dit sluit onder andere die verwelkoming by die deure, uitdeel van afkondigings en ander stukke, aanwys van sitplekke, verleen van hulp aan moeders met kinders asook lidmate in rolstoele in.
Multimedia
- Die multimedia-bediening is verantwoordelik vir die beheer en versorging van alle oudiovisuele (multimedia) hulpmiddels wat tydens eredienste en ander geleenthede gebruik word. Daar is hoofsaaklik drie terreine waar gemeentelede betrokke is.
- Klank – Kan lidmate wat oor die nodige kennis van klanktoerusting beskik inskakel. Dit sluit die opstel van mikrofone, beheer van die klankapparaat (verdeelbord), beheer van die luidsprekers en die speel van CDs en DVDs in.
- Elektroniese bord - Die elektroniese bord word gebruik vir die vertoon van die woorde van die liedere wat tydens dienste gesing word. Die span hanteer die opstel van die liedere, die programmering daarvan en die beheer van die rekenaar tydens dienste. Enige persoon met basiese kennis van 'n rekenaar kan kom help.
- Video - Die videoprojektor en -skerm word gebruik vir die vertoon van PowerPoint-aanbiedings, speel van DVDs en enige ander visuele snitte. Hulp word benodig met die bedryf van die rekenaar tydens eredienste en ander geleenthede.
Die Uitreik bediening bestaan uit ‘n aansienlike groep lidmate van regdeur die Gemeente wat deur die Genade van ons Here en onderleiding van die Heilige Gees, hul roeping vind en dankbaar hul onderskeie passies uitleef in gehoorsaamheid aan Christus se Groot Opdrag, deur uit te reik beide in ons direkte omgewing en daar verligting te bring waar nood beleef word, asook deur ondersteuning te bied aan Uitreik-aksies in ons buurlande asook in die buiteland, waar die blye boodskap van God se Redende Genade uit gedra word.
Ons is en bly diep afhanklik van God Drie-enig maar in besonder ook van elke lidmaat reg deur die Gemeente wat gehoor gee aan God se roeping op hul lewe om hierdie aksie te ondersteun deur gebed, fisisiese betrokkenheid asook andersins.
Die Uitreik-aksies wat tans aktief werksaam is en hul onderskeie groepleiers is dan kortliks as volg:
- Jakaranda Kinderhuis – Huis 16. | Nettie Wagner. - 083 276 7550
- Jakaranda Kinderhuis – Huis 19. | Estie Rossouw. - 082 927 2140
- Wolmer Kinder-projek. | Marlene Bü . - 084 069 9880
- CMR Wonderboom. | Dennis Wagner. - 083 462 2329
- CMR Daspoort. | Rita Viljoen. - 083 484 8734
- Margaretha Ackerman Tehuis | Margariet Goldschag. - 082 574 2319
- Jan Niemandpark. | Dennis Wagner. - 083 462 2329
- Hoerskool Overkruin. | Ralie Bezuidenhout. - 079 279 4005
- Buitelandse Uitreik. | Leraars & Hein Schuld. - 082 550 8297
- EE-111. | Johan van Niekerk. - 082 788 1421
Om vir iemand om te gee staan direk in lyn met die wet. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en belangrikste opdrag. Die tweede opdrag wat hiermee gelyk staan is dat jy jou naaste moet lief hê soos jouself. Soos julle weet is die hele wet in hierdie twee opdragte saamgevat.
In vandag se lewe is dit asof die algemene gedagte is dat jy bedien moet word. Dit is onmiddelik in teenstelling van wat hierbo genoem is. Die nood en swaarkry is om elke hoek en draai sigbaar. In ons gemeente, in ons woonbuurt, ons land en dan die wêreld. Hoe ons gaan reageer teenoor hierrdie nood, dit is waar die uitdaging is. Dit neem moet en durf om daardie eerste tree te vat om te help. Dit vat tyd en energie om te luister na iemand in hul donkerste uur. Tog, wanneer jy wel daardie eerste tree gevat het en iemand help, gebeur iets in jou gees wat jou weer hoop gee. Daar is baie hartseer daar buite en dit is onmoontlik (menslik gesproke) om almal op eenslag te help. Help dan net daardie een persoon wat oor jou pad kom. Gee weer hoop vir daardie persoon.
Om vir mekaar om te gee moet 'n mens tog betrokke wees want hoe anders gaan jy iemand se seer in jou eie gemeente raak sien. Daar is kleiner ondersteunende omgee groepies waarby 'n mens kan betrokke raak en hulle is altyd reg om jou te verwelkom. Die volgende groepies is daar om mekaar en vir jou te ondersteun: dissiplskap selgroepe, seniorvolwassenebediening, gasvryheid en die kuierhoekie. Almal is altyd baie welkom.
NG Overkruin het vir baie jare reeds 'n koor waarvan die getalle tussen 25 en 35 wissel. Die koor tree gereeld op by nagmaalsdienste asook by spesiale erediense soos die jaarlikse Kerssang-, Lentesang- en Paassangdienste. Die koorlede vorm 'n ondersteuningsgroep wat mekaar bystaan en bemoedig in tye van lief en leed.
Weeklikse bybelstudies word deur die leraars aangebied op Woensdag - en Donderdagoggende. Sien aankondigingsblad vir meer inligting.
Hanteer alle interne en eksterne kommunkasie van die gemeente.
Die opstel van die jaarprogram, weeksliks aankondigingsblad, Overkruiner, Webwerf en die uitstuur van sms’e en e-posse resorteer alles onder die Aksiegroep Kommunikasie.
Een van Overkruin se suksesverhale die afgelope 10 jaar, is die jaarlikse garageverkoping wat nie slegs onder lidmate nie maar ook onder die gemeenskap baie gewild geword het. Lidmate en lede van die gemeenskap word jaarliks uitgenooi om enige item waarvan hulle ontslae wil raak, te skenk. Hierdie items word dan tydens die jaarlikse garageverkoping verkoop.
Geloofsontwikkeling (GLO)
Kinders en jongmense se Geloofsontwikkeling
Geloofsontwikkeling begin reeds met geboorte en hou aan tot die dag wanneer jy finaal jou asem uitblaas. In kinders en jongmense se geloofsontwikkeling speel u as ouers die primêre rol en die kerk staan u in hierdie proses by. As gelowige ouers wil ons graag sien dat ons kinders en jongmense in ‘n persoonlike verhouding met God staan. Om deel te wees van ‘n kerk, is ‘n belangrike aspek in hierdie proses.
Geloofsontwikkeling by NG Overkruin bestaan uit 4 bene, waar binne ruimte gemaak word vir kleuters tot studente:
- Pienkvoete: Tydens die oggend erediens word die kleuters in die Ark geakkommodeer waartydens hulle op hul vlak met die Woord van God bedien word. Hierdie byeenkomste vind plaas tydens skoolkwartale, behalwe met Nagmaal en 1ste Sondag van die maand waar ons graag wil hê die kleuters kerk saam met u as ouers moet bywoon. Dit is belangrik dat hulle blootgestel word aan die rituele van ‘n erediens.
- Junior geloofsontwikkeling: Die graad 1 – 6 kinders kom na die oggend erediens bymekaar vir kategese (Sondagskool van ouds). Tydens hierdie geleenthede word hul deur hul mentors begelei op hul geloofsontwikkeling pad. Net soos met die kleuters is dit belangrik dat kinders kerk bywoon om in die gemeenskap van die heiliges te deel.
- Senior geloofsontwikkeling: Die graad 7 – 11 jongmense kom na die aand erediens bymekaar vir hul kategese. Die graad 7 – 10 jongmense word deur hul mentors begelei terwyl die Graad 11 jongmense op hul Geloofsbelydenis pad deur ‘n leraar begelei word. Ook hier is kerkbywoning belangrik aangesien die jongmense in die gewoonte moet kom om ook na hul formele geloofsontwikkeling pad, aan te hou om kerk by te woon.
NG Wonderboom en NG Overkruin werk saam met die aand eredienste asook die senior geloofsontwikkeling, wat by NG Overkruin plaasvind.
- Die studente kom weekliks bymekaar vir Bybelstudie, gelei deur die leraars, waartydens aktuele temas bespreek word.
Deur die jaar word ook verskillende aktiwiteite aangebied waarby die kinders en jongmense kan in skakel om ook op informele maniere hul geloof te versterk.
Hier by NG Overkruin wil ons graag u hande as ouers vat om u kinders en jongmense te help begelei tot ‘n persoonlike verhouding met God.
Ons Omvattende Seniorvolwassenebediening is daarop gemik om holisties, deelnemend, motiverend en begeleidend te wees. Ons poog om ouerwordende lidmate te begelei tot ‘n betekenisvolle verouderingspad tot die einde van ons lewe. Ons program word gerugsteun deur die volgende byeenkomste.
- DOELSTELLING
Die doelstelling van die Kommissie is om om te sien na alle aangeleenthede met betrekking tot die personeel van die NG Gemeente Overkruin binne die bepalings van alle toepaslike wetgewing, die bepalings van die Kerkorde, Sinodale maatreëls en besluite, asook binne die raamwerk van algemene personeel bestuurspraktyke soos vereis deur tersaaklike wetgewing.
Die DVK strewe daarna om op ’n diensbare wyse die bedieningsvereistes van die Gemeente en die potensiaal van die personeel bymekaar bring en om sovêr moontlik, deurgaans ’n gelukkige onderlinge werkgewer/werknemerverhouding te bewerkstellig. - WERKSAAMHEDE
Die Kommissie:
- Bestuur namens die Gemeenteraad as die werkgewer en as gevolmagtigde liggaam, die diensverhoudings met alle werknemers en aangestelde kontrakteurs.
- Sien in samewerking met die Gemeentebestuurder, om na alle aangeleenthede met betrekking tot die personeel van en kontrakteurs aangestel deur die Gemeenteraad binne die bepalings van alle toepaslike wetgewing, die Kerkorde, Sinodale bepalinge/ besluite en bevoegdhede / gesag deur die Gemeenteraad aan die DVK gedelegeer, asook binne algemeen aanvaarde personeel bestuurspraktyke..
- Tree namens die Gemeenteraad op as werkgewer in onderhandelings met die personeel en kontrakteurs en dra sorg dat alle dienskontrakte te alle tye bygewerk word.
- Sien toe dat billike arbeidspraktyke ten opsigte van werknemers gehandhaaf word en sien toe dat werknemers en die werkgewer wedersydse verpligtinge nakom.
- Is verantwoordelik vir die werwing, keuring en aanstelling van die administratiewe personeel van die Gemeente.
- Stel ’n volledige personeelbeleid saam en sien om na die uitvoering daarvan in oorleg met die Gemeentebestuurder.
- Stel posbeskrywings vir alle poste op en hou dit deurlopend met gepaardgaande kontrakte in stand.
- Voer onderhandelings met en stel dienskontrakte en pligstate vir alle personeel en kontrakteurs op.
- Hersien diensooreenkomste en kontrakte in samewerking met die Gemeentebestuurder na gelang van omstandighede.
- Ontwerp en implementeer ’n dissiplinêre kode en grieweprosedure en hanteer griewe en klagtes dienooreenkomstig.
- Stel jaarliks die DVK begroting in samewerking met die Finansiële Kommissie (FK) op ooreenkomstig die aanbevelings en riglyne deur die Sinode bepaal.
- Aanvaar verantwoordelikheid vir die besteding van die begroting
Voorsitter:
Danie Kolver
danie@klvr.co.za
083 628 3698
Lede:
Andries du Plessis (Ondervoorsitter)
Louw Smit
Craig Green
Erich Weber
Retief Hitchcock
Die Finansiële Kommissie (FK) het die verantwoordelikheid om toe te sien dat die finansies en finansiële sake van die Gemeente binne die bepalings van die Kerkorde, sinodale bepalings, toepaslike wette en regulasies asook binne die raamwerk van besluite van die Gemeente- en Bestuursraad hanteer word.
Die FK stel jaarliks ‘n begroting op vir die nuwe boekjaar in oorleg metal die voorsitters van kommissies en aksiegroepe en lê dit voor vir goedkeuring voordat die nuwe jaar ‘n aanvang neem. Verder sorg die FK ook dat finansiële state aan die ouditeure voorgelê word en sodra die geouditeerde state verskaf word, word dit aan die Gemeenteraad voorgelê vir goedkeuring en kan enige gemeentelid dit besigtig.
Alle sake en versoeke word binne algemene aanvaarbare finansiële riglyne oorweeg en met die nodige empatie en diensbaarheid hanteer met inagneming dat ons met ‘n kerklike instelling in ‘n sekulêre omgewing werk.
Dit is vir al die lede van die FK belangrik dat fondse wat die gemeente ontvang, altyd tot die beste belang en tot eer van God se koninkryk spandeer word. Al die aksiegroepe en kommissies word verantwoordelik gehou om werklik as rentmeesters op te tree wanneer fondse spandeer word.
Die huidige lede van die FK het almal finansiële en begrotings ervaring. Die voorsitter en onder-voorsitter is Louise van den Heever en Gerda Viviers onderskeidelik met Phillip Botha wat ook ‘n lid van die kommissie is. Delesté Oberholzer is ons finansiële beampte.
Enige persoon met finansiële en begrotings ervaring is welkom om betrokke te raak en ook op die wyse ‘n bydrae te lewer tot die uitbreiding van ons gemeente se Gods roeping.